Alte Feste se ou trein klink en blink weer

Go Back

Friday, 8th May 2015
Die ou lokomotief het reeds ‘n gedaanteverwisseling ondergaan, maar baie werk moes nog gedoen word toe Anneli Erasmus die foto op die Nimt-kampus geneem het.

Deur Des Erasmus gepubiseer in die Republikein. 

Die Alte Feste in Windhoek se geskiedkundige ou stoomtrein lyk weer soos toe dit in 1904 ingevoer is. Dit klink en blink op die terrein van die Namibiese Instituut vir Myntegnologie (Nimt) op Arandis waar vakmanne vir Namibië opgelei word.

Sowat twee jaar gelede is die trein in ’n gehawende toestand weens roes en algemene verwering van die Alte Feste na Arandis gebring. Die geld vir die restourasie van die erfstuk is deur Duitsland aan Nimt geskenk.

Die trein bestaan uit die stoomlokomotief, die kolewa, ’n passasierswa, ’n goederewa en ’n beestrok. Die restourasiewerk is deur studente van Nimt se ingenieursfakulteit en siviele boukampus gedoen. Volgens ’n aankondiging deur die uitvoerende direkteur van Nimt, mnr. Eckhart Mueller, was die restourasiewerk ’n tydrowende proses. Van die stukke van die trein moes heeltemal deur die studente herbou word. Die proses is as deel van die studente se opleiding ingepas.

Voldens Mueller moet nog besluit word hoe en wanneer die herboude trein terug Windhoek toe gestuur gaan word. Die betrokkenes by die herbouproses het wel besluit dat dit op 18 Mei ’n vertoonstuk tydens ’n byeenkoms op die kampus van Nimt gaan wees. Die geleentheid sal om 12:00 op 18 Mei by Nimt plaasvind. Dit is ook die geleentheid wanneer die trein aan die betrokke ministerie teruggegee gaan word.

Nimt was ook die restoureerders van die ou stoomlokomotief, die Martin Luther, wat nou in ’n eie skuur ’n besienswaardigheid langs die teerpad na die binneland en net buite Swakopmund is.

© Namibia Stays - 2024 | Links | List / Manage Your Business | Alte Feste se ou trein klink en blink weer

Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs Designs | Web Hosting by ZAWebs Hosting