Keetmanshoop Trein Ongeluk - 25 Maart 1977

Go Back

Sunday, 25th March 2007

On 25 March 1977, en route to the operational area at the border, a terrible train accident at Keetmanshoop in southern Namibia resulted in the death of 5 soldiers and serious injuries to 71, who had to be evacuated to 2 Military Hospital in Wynberg, Cape Town. They were members of Regiment Western Province.

Every year, on the regiment‟s birthday, this tragic event is remembered at a memorial service.

The remaining soldiers of the regiment completed their border duty at Eenhana base on the border between Namibia and Angola, testimony to their strength, discipline and courage.

During the State of Emergency (1985 to 1990), its members were called up once more to ensure the internal security of the country.


Dertig jaar gelede, op 25 Maart 1977, het Keetmanshoop sekerlik die mees dramatiese trein-ongeluk ooit beleef.

'n Gedenksteen is by die Spoorweg stasiegebou se hoofingang opgerig ter nagedagtenis van, en ter herinnering aan diegene wie op 25 Maart 1977 in die ongeluk gesterf het.

Net so min as wat inwoners die slag van botsing om ongeveer 03H00 die betrokke oggend gehoor het, weet jonger mense dat, en waarom, so 'n gedenksteen opgerig is. Ouer mense onthou iets van 'n tragiese gebeurtenis, maar weet ewe min.

Die gedenksteen bring hulde aan diegene wie gesterf het en bedank inwoners van Keetmanshoop vir hul bystand verleen.

Niks verder nie.

Dus, wat het gebeur dat sodanige huldeblyk voor die ingang van die stasiegebou voorkom?

GEREGTELIKE ONDERSOEK

Die Staat teen die SA Weermag, die SA Spoorweë teen die treindrywer en siviele gedingvoering het vir lank in die howe agter geslote deure na antwoorde gesoek.

Vrae wat na antwoorde gesoek het, en moontlik op die klagstaat was, kon wissel van “nalatigheid”, “poging tot selfmoord”, “moord met opset” en “uitwissing van SuidAfrikaanse weermaglede, sameswering met dié land se vyande”, en veel meer. Die gebeure wat aanleiding tot die ongeluk gegee het moes vasgestel word alvorens ‘n klagstaat saamgestel kon word.

Ooggetuies vertel die verhaal soos volg en soos wat dit onthou word:

Dog meer ongekontroleerd as korrek, blyk die volgende juis te wees:

'n Passasierstrein met Suid-Afrikaanse soldate het in die vroeg oggend-ure die Spoorwegstasie van Keetmanshoop binnegekom. Passasierswaens, (rytuie), met ses soldate in elke kompartement, is stadig voor die perron van die stasiegebou tot stilstand gebring. Die trein moes wag vir 'n aankommende trein uit die rigting van Windhoek.

Die soldate was aan die slaap want dit was ver van eerste lig. Die stasie was stil. Slegs spoorwegpersoneel, militêre polisie, en enkele spoorwegpolisie-beamptes aan diens was te sien.

Algehele stilte is afgedwing, want "die trein na die Noorde" was 'n militêre trein en staatsgeheim wat net snags mog beweeg.

Na Pretoria is slegs rapporteer dat die troeptrein veilig arriveer het.

'n Normale situasie vir die publiek, terwyl kommando-lede rustig waghou.

Die Doodsengel het ook waggehou.

Hospitaal-personeel aan diens doen roetine rondtes en geneeshere rus tuis.

BYDRAENDE FAKTORE

1. Voorafgaande besluite

Min mense het iets geweet van leë vragtrokke wat na Keetmanshoop-stasie teruggebring is. Dié trokke se remme was, na bewering, onveilig verklaar ten tye van aankoms te Keetmanshoop. Nogtans is die trokke na Townlands-sylyn geneem om ‘n vrag klip te gaan haal.

‘n Masjienis aan diens word beveel om sy diesellokomotief na Townlands te neem en die vrag klip na Keetmanshoop te sleep terwyl daar op die troeptrein gewag word.

Hy, vergesel van sy assistent, voer die opdrag uit. Daar gekom, word die vrag klip as korrek per asbelasting gelaai verklaar. Die drywer aanvaar die vrag, haak dit en vertrek na Keetmanshoop-stasie soos beveel.

2. Bewerings en Regulasies

Spoorwegregulasies sou, na bewering, teenstrydig met mekaar wees. Die een bepaal dat 'n trein tot stilstand gebring moet word ingeval van die vermoede van ‘n defek aan ‘n trein. Die ander laat die drywer toe om op eie diskresie voort te gaan indien hy meen dat dit veilig is om verder te beweeg.

3. Eie Diskresie Fataal!

Die masjienis vermoed dat die vragtrokke se remme nie die vrag betyds kan stop nie. Hy oefen nogtans sy diskresie hom toegelaat uit, naamlik dat sy lokomotief se remme voldoende is om die vrag te hanteer.

Helaas, die beweerde oorlading van vrag nie verklaar nie en die styl afdraand na die stasie bewys hom verkeerd.

Die vrag op trokke met defekte remme, waarvan hy grootliks onbewus was, maar vermoed het, vermeerder spoed wat die lokomotief nie kon hanteer nie.

Alle bostaande bewerings is agter geslote deure van die hof in kamera aangevoer.

4. Foutiewe wissels

Die masjienis besef, (te laat), dat wissels by die ingang tot die stasie sy trein nie op ‘n ander baan gaan laat beland nie, en dat sy trein teen die wagtende, stilstaande trein gaan bots. Sy assistent besef dieselfde.

Die masjienis sien die onafwendbare en rem tevergeefs. Sy assistent skraap moed bymekaar en maak gereed om 'n botsing te voorkom. Sy sprong vanuit 'n lokomotief op spoed en buite beheer na die wissels op die grond om te red wat hy wou, misluk.

Nou is alles buite beheer. Die vrag stoot-dra die vragtrein in die rigting van 'n stilstaande en geremde passasierstrein vol mense.

Die onvermydelike gebeur dus: Voordat iemand aan diens 'n vinger kon verroer, bots die vragtrein met die passasierstrein om ongeveer 03H00 die oggend van 25 Maart 1977.

Die slag van die botsing was in die stil oggendure te hoor, maar is nie gehoor nie.

Van wat gevolg het op die botsing, onthou, selfs diegene wie aan diens was, bitter min. Alles het eenvoudig te vinnig vir die oog gebeur.

Die hospitaal, verpleegsters, dokters, militêre bevelvoerders, noodhulpliga, brandweer, en noem maar op, word gebel.

Binne enkele minute is die stasie-kompleks afkordon en kon reddingswerkers sonder vrae doen wat gedoen moes word.

Ses manne in elke kompartement, in pyn en duisternis gehul, vasgedruk deur slaapbanke en bagasie is uit hul diep slaap geruk.

Gille en roepe in pyn na hulp, hetsy na hul Skepper of naasbestaandes iewers in Suid-Afrika, versteur die vroegoggend-stilte. Sommiges het voort bly slaap om nooit weer wakker te word nie.

Eenheid in nood

Herkoms, afkoms, geloof, kleur en meer, het iewers tuisgebly.

Foto's, onwettig tydens ondersoek en opruiming geneem, spreek van eenheid en medelye.

'n Nama-seuntjie, skamel geklee, vind sy weg deur die rommel en klip en gaan kniel by die "wit" omie met 'n blikbeker en bied water aan. Sy alles is op die altaar, want meer het hy nie. Dié jongman moet nou ongeveer 35 jaar oud wees. Sal hy nog iets van daardie dag kan en wil onthou ?

Georganiseerde en opgeleide personeel

Die boodskap van 'n ongeluk versprei gou van mond tot oor. Hulp van alle aard was gou op die toneel. Niemand vra vrae nie, maar doen wat sy/haar hand vind om te doen. Die hospitaal is voorsien van bykomende matrasse en komberse, kos, medikasie – items wat 'n mens wonder wie dit in voorraad gehou het, en waarom.

Beseerdes uit wrakke gesny is versorg. Sterwendes word verwyder en toegelaat om in vrede hul Skepper te gaan ontmoet. Dit is hul name wat in die gedenkplaat graveer is vir almal om vandag te lees.

Tog jammer dat die helde van daardie dag se name te veel is om by te voeg...

Vrae vir vandag:

Dertig jaar het verloop ná die ongelukkige gebeurtenis.

Moderne hospitale het verval in hole sonder toerusting vir noodgevalle.

Mense steel eerder hospitaaltoerusting as om dit in stand te hou, terwyl vullis deur die venster na buite gegooi word.

Sou enige dorp vandag soortgelyke ramp ondervind, wil 'n mens wonder of reddingswerk en mediese versorging beter of slegter gaan wees as 30(dertig) jaar gelede. Toe was hospitaalstoepe skoon genoeg vir ‘n geneesheer om daar en dan ‘n operasie uit te voer.

Saamgestel deur: W F KOTZE 25 Maart 2007

© Namibia Stays - 2019 | Links | List / Manage Your Business | Keetmanshoop Trein Ongeluk - 25 Maart 1977

Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs Designs | Web Hosting by ZAWebs Hosting