Stapper Coetzee Groet

Go Back

Monday, 9th July 2007

Voorgelê deur Republikein op Ma, 2007-07-09 01:00

DIE legendariese Stapper Coetzee het gegroet.

Mnr. Jacobus Johannes Coetzee, later jare in die Suide as Stapper gedoop, was die afgelope twee jaar op De Aar in Suid-Afrika woonagtig en is op 4 Julie 2007 dood.

Volgens sy broer, mnr. Gert Coetzee, by wie hy gewoon het, was wyle Stapper besig om sy middagmaal te nuttig toe hy klaarblyklik 'n hartaanval gekry het.

"Hy was besig om te eet. Ek was vir vyf minute na buite. Toe ek terugkom in die kombuis het ek Stapper met sy kop op die tafel dood aangetref. Soos hy gesit het, het hy vooroor op die tafel gebuig," het mnr. Coetzee aan 'n inwoner van Keetmanshoop, mnr. Willie Kotzé vertel.

Mnr. Kotze sê verder: "Ek het hom eenkeer gevra of hy begrafnisversekering het. Seg hy toe vir my: 'Boet, 'n begrafnispolis is net 'n goeie ding om te hê solank jy lewe. Wanneer julle my begrawe, moenie 'n kis koop nie. Knip 'n jêmblik in sy lengte in twee en sit op elkeen van my ore 'n halwe sodat daar nie sand in my ore val nie. Ek hou nie van sand in my ore nie'."

Wyle Stapper was tot 'n paar jaar gelede 'n inwoner van Keetmanshoop voordat hy hom op Port Nolloth gevestig het. Daarna hy hy na sy broer verhuis.

"Stapper is, volgens sy geboortesertifikaat, in die distrik van Aroab op 19 April 1930 gebore. Volgens die geboorteregister, die 6de geboorteregistrasie vir 1930," het mnr. Kotzé aan Republikein gesê.

"Die bynaam 'Stapper' en later sommer net 'Steps', het hy verwerf toe hy gedurende 1952 die pad na Kaapstad te voet aangepak het."

Tydens 'n onderhoud met Republikein in 2003 het hy vertel waar dié naam vandaan gekom het. "Ek was 21 en wou met my perd van Keetmanshoop na Kaapstad ry. En toe vrek my perd voordat ek kon gaan." Oom Stapper het vertel dat die mense gesê het hy is mal om dit te doen, maar hy het vasgeskop.

"Ek was die skuinsste ou in die omgewing en het besluit ek sal almal wys. Ek sal Kaapstad toe stáp," het hy toe aan Republikein gesê.

Hy het ook vertel dat iemand hom 'n geleentheid per motor wou bied. Aan dié het hy gesê: "Dankie Boetman. Verskoon my, maar ek is 'n bietjie haastig".

Hy het, volgens sy eie vertelling, 31 dae geneem om na die Kaap te stap. "Ongeveer 5½ myl per uur. En as jy nie wil glo nie, ek het in my sakboek aangeteken, elke tydstip waarop ek by 'n plek aangekom en vertrek het. Ook die afstande afgelê," het mnr. Kotzé verder vertel.

"In 1967 was dit 'n perd van 'n ander kleur. Hierdie keer is hy te perd na Kaapstad. Daar is gerugte dat hy 'n afspraak met 'n meisie voor die Grote Kerk gehad het en dat hy die perd opgesaal het om die afspraak na te kom," vertel mnr. Kotze verder.

Oor dié uittog het hy in die onderhoud met Republikein vertel dat hy by Bitterfontein sy perd op sy nat hoewe moes beslaan. "Toe dit droog word het sy hoewe gekrimp. Ek het 500 meter van die Kaap af gestop en die perd kon nie verder nie." Vir jare het die mense hom daarvan beskuldig dat hy sy perd doodgery het.

Later jare was wyle Stapper 'n perdesmous en het hy huise gerestoureer. In sy laaste jare van verblyf op Keetmanshoop het hy prentjies gemaak met stukkies hout of boombas wat hy opgetel het.

Só sal elkeen wat met Stapper Coetzee iets te doene gehad het iets te vertelle hê. "Vir my is Steps nie dood nie. Hy is net ver," het mnr. Kotzé gesê.

Wyle Stapper was nooit getroud nie en het ook geen kinders nie.