NHADIEP, Legende van die Suide

NHADIEP, Legende van die Suide

28th January 2015

Die “Maniak van die Suide” is dood, maar geensins vergete. Met die woorde: “Jou moer”, op sy lippe, sterf Nhadiep op 26 April 1982.

Klaas Pieters, alias Klaas Tekkies, alias Nhadiep, is “presies om 11H55” geskiet. Dít, ná agtien maande se intensiewe soektog na hom.

Die besliste en finale doodskoot is gevuur om ‘n einde te maak aan die langdurige soektog na ‘n reeksmoordenaar.

‘n Tragiese verhaal eindig, of het dit?

Op 15 Oktober 1980 word berig dat by die plaaswoning van Goibib, 100 kilometer suid van Keetmanshoop, ingebreek is. ‘n Vuurwapen word vermis. Dieselfde vuurwapen dood ‘n vrou, wond ‘n ander vrou in die been en laat ‘n driejarige seuntjie met skrapnel wonde.

Einde April 1981 word meneer Johannes Son op die plaas Oas in die Karasburg omgewing, doodgeskiet.

Kolonel Skankwan Greyling, speurhoof van SWA/Namibië, vermoed dat die moordenaar dieselde persoon is wie me. Anna Paulus op 15 Oktober 1980 vermoor het.

Die polisie se soektog in bergagtige terrein lewer niks op nie. Nie eens ‘n spoor om te volg nie. Plaaswerkers verlaat plase uit vrees vir hul lewens. Niemand wil praat nie. Almal is vreesbevange, want wie gaan volgende wees?

Spanning laai onder die boerderygemeenskap op. Reën bly weg en weiding word skaars.

Plaasboere word ongeduldig en vra die regering om hulp.

Op 21 Mei 1981 gee die regering gehoor aan die boerderygemeenskap se versoek om hulp. ‘n Beloning van R1000-00 word uitgeloof vir die inhegtenisname van die vermeende moordenaar, hoewel onbekend.

Die enigste leidrade is dat die moordenaar ongeveer 26 jaar oud is en met een voet effens skeef trap.

Redelike sekerheid bestaan egter dat hy Nama sprekend en steeds gewapen is. Geen beskrywing of foto is beskikbaar nie. Steeds nie.

Op 15 Maart 1982 word meneer Lukas Rooi, plaaswerker van meneer Hans Eberhardt in die omgewing van Karasburg doodgeskiet, terwyl meneer Frans Hendriks, (eers aangegee as Morkel), in die oog gewond is.

Meneer Hendriks, as ooggetuie, plaas die polisie op “vars spore” van die moordenaar. ‘n Lug- en grondsoektog word in alle erns na die voortvlugtende geloods.

Volgens die polisie neem daar nou 60 man deel aan die soektog in onbegaanbare bergagtige gebied, suid van Keetmanshoop.

‘n Lys name wie vermoor moet word, word gevind. Die mense wie se name op die lys voorkom word van plase na dorpe verskuif, terwyl ander plaasarbeiders uit vrees plase verlaat. Die boerderygemeenskap van Grunau en Karasburg ly verlies weens geen werkers en knellende droogte.

Meeste deelnemende burgermaglede is boere wie opgeroep is vir diens, terwyl sake op hul plase skeef loop.

Die reeksmoordenaar ontwyk die uitgebreide netwerk. Nhadiep loop op klippe, kampdrade en pypleidings om geen spoor na te laat nie. Dit neem dae voordat dit vasgestel kan word in welke rigting spore, indien enige nagelaat, lei.

Uitmuntende kennis van die omgewing, vernuf en die onbegaanbare bergagtige gebied tel in sy guns. Op 19 Maart 1982 berig die polisie dat die soektog die grootste nóg in die geskiedenis van die suide van SWA/Namibië is.

“Elke duim grond in die Groot Karasberge word gefynkam”. Die naam Klaas Pieters, alias Nhadiep, raak bekend en is op iedereen se lippe. “Nhadiep moet nou gevind word, lewend of dood”, aldus die polisie.

Op 16 April 1982 “eis Nhadiep bykans nóg een”, toe meneer Izak du Plooy “vyftien voet loodreg teen ‘n krans afval”. Met vyftien steke in sy kop, gekraakte ribbes en kneusplekke, word meneer Du Plooy spoedig ontslaan om na sy plaas terug te keer.

Dié drama gee Nhadiep kans om uit te wyk na die plaas Oas tussen Aroab en Karasburg.

Op 27 April 1982 berig Republikein dat Klaas Pieters, alias Nhadiep, deur sersant Coenraad du Preez die vorige dag deur die kop geskiet is ná hewige geweervuur tussen die twee mans. Sersant Du Preez skets die geveg in detail aan die koerant. ‘n Kwessie van lewe en dood van enige een van die twee. Volgens sersant Du Preez was die geveg intens. Enige een van die twee manne kon die laaste skoot ontvang. Nhadiep is gewond en besef hy het die geveg verloor. Hy skree aan Du Preez: “ Du Preez, jou moer” en sterf aan die laaste patroon wat Du Preez deur Nhadiep se slaap jaag. Dié noodlottige skoot op Nhadiep is “om presies 11H55 op 26 April 1982” gevuur.

Dit alles is en was nie die einde van Nhadiep nie.

Nog nie. Ek soek die werklikheid, die waaroms en redes.

Eintlik na Nhadiep as mens. Ook ‘n foto. Uiter jy die naam “Nhadiep” ontvang jy gemengde reaksie.

Jongmense vertel hoe hulle as kind eerder ‘n drag slae sou wou ontvang as om met Nhadiep gedreig te word. Ouer mense vertel jou vinnig ‘n staaltjie. Die een het aan die soektog deelgeneem, die ander vertel van die verleentheid wat Nhadiep oor die soekgeselsskap gebring het deur hul onvermoë om hom vas te trek.

Het Nhadiep oor “bomenslike” vermoëns beskik? Is dit werklik Nhadiep wat geskiet is, of het die polisie ‘n storie opgemaak om hul verleentheid te verbloem?

Nhadiep se spook sweef steeds wye draaie oor die Groot Karasberge. Spoorloos. Dit alles het veroorsaak dat Nhadiep ‘n legende geword het.

Soveel só, dat ‘n rolprent "Windprints" gedurende 1989 oor hom vervaardig is. Die film is die beste drama-, nee, riller rolprent wat op Namibiese bodem geskiet is. Helaas, die rolprent is nooit sedert 1990 in Suidelike Afrika vertoon nie. 

Glo té rassisties vir Namibië, maar nie vir die res van die wêreld nie! Die grootste onsin na my mening. Geskiedenis bly geskiedenis. Foto’s van volksmoorde wek meer weersin as die lewenswyse tydens die laaste jare wat Namibië se onafhanklikheid vooraf gegaan het.

Die hordes Namas van Keetmanshoop en Berseba as byspelers, sal graag die rolprent wil sien. Hulle is verfilm, maar mag hulself nie op die groot doek sien nie. Van die byspelers leef nie meer nie. Bekende akteurs van faam ook nie.

Hul nagedagtenis leef egter voort saam met die gedagte aan Nhadiep. Die mooi natuurtonele van die Suide, Visrivier en Seeheim is nooit aan Namibiërs vertoon nie. Meeste tonele is te Seeheim verfilm. Vrae wat nooit antwoorde ontvang het nie, is: “ Waarom het Nhadiep net mense van sy eie ras vermoor?”

Wat het in sy jong lewe verkeerd geloop? Sekerlik het hy ouers, familie en vriende nagelaat. En sy graf ?

Vele staaltjies word weerhou, sommige uit erge verleentheid. Met die paar wat aan my vertel is kan ‘n mens ‘n boek skryf, maar nie sonder Nhadiep as mens nie.

Vertel my van enigiemand wie dit kon regkry om ‘n polisie- en burgermag, selfs ‘n gemeenskap, vir agtien maande besig te hou.

Hulle met hoogs ontwikkelde toerusting en middele tot hul beskikking, en hy met sy rugsak, ‘n rewolwer en geweer vir dieselfde tydperk voortvlugtend met sestig man op sy hakke.

Dit is my mening dat die lewensverhaal en gepaartgaande staaltjies oor Nhadiep ‘n unieke storie sal uitmaak. Sommige dele daarvan sal komies wees. Die ander sal gemengde gevoelens en hartseer meebring.

En, voeg ek by, daar ís komiese vertellings. Natuurlik hartseer ook.

Lees hier meer oor die film "Windprints" http://www.compleatseanbean.com/windprints.html

Go Back

Photos

nhadiep.jpg
Website Design, Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs Designs | Web Hosting by ZAWebs Hosting